Posted on

Artikel: Trusts

Franscois van GijsenFranscois van Gijsen skryf oor trusts in hierdie artikel. Franscois is ‘n lid van FISA en Direkteur van Finlac.

Wanneer jou trust nie wil werk nie

Trusts is deesdae ʼn gewilde finansiële- en boedelbeplanningsinstrument. As instrument, word daar dikwels gesê, is dit ʼn manier om belasting, veral Boedelbelasting, te bespaar asook ʼn manier om bates te beskerm teen skuldeisers. Trusts word egter dikwels verkeerd gebruik wat dan lei tot probleme vir die beplanner en tot nadeel is van die begunstigdes.

 

Geskiedkundig het trusts ontwikkel om te voldoen aan die behoefte van die skenker om voorsiening te maak vir die trust se begunstigdes en hulle te beskerm, veral in omstandighede waar hy/sy self nie voortaan beskikbaar sal wees om daartoe toe te sien nie. Voorgenoemde voordele wat die gebruik van ʼn trust klaarblyklik vir die boedelbeplanner sou inhou, as ʼn mens fyn daaroor dink, is egter nie gemik op die beskerming van en die voorsiening vir persone anders as die boedelbeplanner nie. Dit is eerder daarop gemik om vir die beplanner wat van die trust gebruik wil maak in sy persoonlike hoedanigheid die een of ander teenswoordige voordeel te bekom.

Die voordeel daarvan vir die begunstigdes, indien dit hoegenaamd oorweeg word, blyk (dikwels) ten beste ʼn sekondêre doel te wees, ʼn byvoordeel wat moontlik kan inskop nadat die beplanner nie meer daar is om self voordeel te trek nie. Daar is dus van meet af aan ʼn konflik tussen die doel waarvoor die trust-vorm, met sy gepaardgaande regsreëls, oorspronklik ontwikkel het en die verbastering t.o.v. die gebruik van die trustvorm wat deesdae algemeen voorkom, naamlik om ʼn eie voordeel vir die beplanner te bewerkstellig.

Hierdie self-gerigtheid, in teenstelling met die trustvorm se altruïstiese bedoeling, maak dat die hedendaagse trustgebruiker poog om vir homself sowel die beheer as die genot oor die trustbates te behou. Probleme wat deesdae uit die gebruik van trusts ontstaan is dan gewoonlik die gevolg daarvan dat die persoon wat van die trust gebruik maak voortgaan om met die bates te handel asof dit sy persoonlike eiendom is. Die beplanner besef selde dat die trustbates wanneer dit aan die trust oorgedra is nie meer syne is om te gebruik soos hy wil nie, óf dat hy nie meer in die toekoms kan voorskryf, of minstens nie behoort voor te skryf, hoe dit gebruik moet word nie. Inteendeel, vir ʼn trust om regtens te bestaan, vereis die reg dat eienaarskap van die trustbates opgegee moet word en dat die bates aan die trustees oorhandig moet word. Hiermee saam móét die trustees die trustbates, ingevolge die bepalings van die trustooreenkoms, tot voordeel van die trustbegunstigdes bestuur. Dit gaan, soos in die Parker-saak gesê, oor ʼn skeiding tussen die beheer oor die bates en die genot daarvan.

Hoe dan gemaak om te bepaal tot hoe ʼn mate ʼn trust in staat is om te voldoen aan al die beloftes wat met die oprig daarvan aan die boedelbeplanner gemaak is? Die volgende algemene reëls behoort te help:

a)    Hoe duideliker die trustakte aan ʼn individu ʼn bepaalbare, persoonlike belang op die trustbates gee hoe minder beskerming ten opsigte van skuldeisers bied die trust aan daardie bates.

b)    Hoe duideliker ʼn individu se persoonlike belang of reg op die trustbates hoe kleiner die boedelbelastingvoordeel wat die trust ten opsigte van daardie bates aan die individu bied.

c)    Hoe meer regte daar in die trustakte vir ʼn individu, hetsy die oprigter of ʼn begunstigde, gereserveer word om 1) eensydig op te tree, en/of 2) besluite te veto, en/of 3) voor te skryf hoe met die trustbates gehandel moet word, hoe waarskynliker is dit dat die houer van die voorgenoemde reg/te persoonlik boedelbelasting op die bates sal moet betaal.

Met ander woorde: Hoe meer voorskriftelik die trust hoe minder van die beloofde voordele bied dit aan die beplanner. Dit is egter verstaanbaar dat dit moeilik is vir ‘n kliënt om ʼn oplossing te aanvaar wat verg dat hy sommige of al sy bates moet weggee om by wyse van gesamentlike-besluitneming deur ʼn groep trustees beheer te word. Hy was dan in die eerste plek opsoek na ʼn oplossing vir sy eie belasting probleme en/of persoonlike finansiële risiko’s. Die inskryf van bogenoemde tipes regte is egter nie ʼn manier om hierdie vrees te besweer nie.

Adviseurs wat trusts met hulle kliënte bespreek behoort dus baie duidelik aan die kliënt te verduidelik wat hierdie “oplossing” van hom vra. As die beplanner nie gemaklik is daarmee om beheer of genot oor sy bates op te gee nie, dan is ʼn trust nie die oplossing vir hom nie. Soos die hof dit in die saak van Thorpe v Trittenwein gestel het: Diegene wat kies om sake te doen deur middel van trusts doen dit, sonder twyfel, om ‘n voordeel te verkry. Hulle kan egter nie die voordeel van ‘n trust geniet wanneer dit hulle pas en dan kla wanneer dit nie tot hulle voordeel is nie.