Posted on

Trusts: Hoe nou gemaak met jou trust

Franscois van GijsenFranscois van Gijsen skryf oor trusts in hierdie artikel. Franscois is ‘n lid van FISA,

FPSA® en direkteur: Regsdienste by Finlac Risk and Legal Management.

Hoe nou gemaak met jou trust?

 

Tesourie het hul mes in vir trusts – ‘n geruime tyd al. Trouens, minister Pravin Gordhan het reeds twee jaar gelede gewaarsku tesourie soek maniere om die gebruik van trusts vir belastingvermyding te beperk. Dat die Davis Komitee se Boedelbelasting-verslag trusts in detail bekyk is dus nie onverwags nie. Soos die minister destyds, stel die komitee voor dat die geleibuis beginsel afgeskaf word. Volgens dié beginsel word trusts se inkomste in sekere omstandighede nie in die trust se hande belas nie, maar in die hande van die trustbegunstigdes wat op die inkomste geregtig is, teen dié persone se (dikwels) baie laer koers. Dié gebruik, meen hulle, ontneem die fiscus jaarliks van heelwat belasting.

 

Daar is egter al heelwat geskryf oor die voorstelle en ek wil nie op die voorstelle of hul uitvoerbaarheid ingaan nie. Of die voorstelle in hul huidige vorm of in gewysigde vorm geïmplementeer word, ek meen die skrif is aan die muur en almal besef die trust-kraantjie, van ‘n belasting oogpunt gesien, gaan toegedraai word. Hierdie besef het natuurlik heelwat mense aan die vra of ‘n trust nog voordelig is, want die administrasie van ‘n trust is ‘n pyn en duur en as die gebruik van ‘n trust nie meer voordelig is nie, wel…

 

Dit is daardie soek na ‘n “voordeel” wat die probleem is. Die oprig van ‘n trust is egter nie bedoel om jouself persoonlik te bevoordeel nie. Die bestaansrede vir trusts is altruïsties. Trusts is, per definisie, bedoel om ander mense se geld te bestuur tot daardie persone se voordeel. Daar is in werklikheid net een ding om te verstaan by die gebruik van ‘n trust, nl. die bates is nie meer joune nie!

 

Die probleme in die trust- en belasting reg spruit, myns insiens, grootliks uit die ontkenning van hierdie beginsel waar gepoog word om met die gebruik van trusts ‘n persoonlike voordeel – gewoonlik ten opsigte van belasting – te bekom. Tesourie is immers nie besig om te kla oor liefdadigheidstrusts of spesiale trusts vir persone wat nie in staat is om hul eie sake te behartig nie. Dit is die misbruik van trusts vir persoonlike gewin waarteen SARS en die trustreg dit het. Die hof in die saak van Nieuwoudt v Vrystaat Mielies praat van “a newer type of trust where someone, probably for estate planning purposes or to escape the constraints imposed by corporate law, forms a trust while everything else remains as before.”

 

Die ironie met die gebruik van trusts vir persoonlike gewin is dat dit altyd bestem is om uiteindelik te faal, juis as gevolg van die ontkenning van hierdie kernbeginsel. Persone wat hulle vir persoonlike gewin tot ‘n trust wend wil nie werklik eienaarskap of beheer van hul bates opgee nie. Met verloop van tyd begin die beperkings wat die gebruik van ‘n trust op hulle plaas te skaaf en lei die behoefte tot ‘n persoonlike voordeel daartoe dat die trustees besluite neem en optree op ‘n manier wat al die gewaande voordele (belasting en andersins) wat die trust sou bied ongedaan maak. Selfs waar die oorspronklike boedel-eienaar nie self sy trustskema ongedaan maak nie, sal eie belang by die ander begunstigdes van die trust weldra daarvoor sorg dat die trust se bates hul pad weer vind tot in die hande van individue.

 

En hoe gemaak wanneer die verwagte wysigings aangebring word? Moet jy nog ‘n trust gebruik? En wat as jy reeds ‘n trust het?

 

Begin deur eerlik met jouself te wees. Persone wat trusts gebruik of oorweeg om trusts te gebruik moet hulself afvra: hoekom wil ek, of het ek, ‘n trust begin gebruik? (En onthou, ‘n belastingvoordeel, selfs ‘n besparing op boedelbelasting, is ‘n persoonlike voordeel – niemand probeer vir iemand anders belasting spaar nie.) Die tweede vraag is: is ek bereid om persoonlike eienaarskap en beheer oor die bates af te staan om hierdie voordeel te bekom?

 

En, wanneer die antwoorde op voorgenoemde vrae jou laat besef dat die beperkings van ‘n trust te veel is vir jou? Begin met die inwin van werklike kundige advies by iemand wat sowel die regsaspekte van trusts as die belastingaspekte daarvan verstaan. Want die ontbinding van ‘n trust, soos die besluit om een te gebruik, kom met sy eie uitgawes én belastings. En die ontvanger kry sy pond vleis iedere keer.

 

Franscois van Gijsen, is gesertifiseer as Fidusiêre Praktisyn (FPSA®) deur die Fidusiêre Instituut van Suider Afrika, is gesertifiseer as Gesertifiseerde Finansiële Beplanner (CFP®) deur die Finansiële Beplanning Instituut en is gesertifiseer as ‘n Meester Belastingpraktisyn (MTP(SA)™) deur die Suid Afrikaanse Instituut vir Belastingpraktisyns.

Hy is die direkteur: Regsdienste by Finlac Risk and Legal Management.