Vermy ‘n paar slaggate wanneer jy ‘n testament opstel waarin jy graag bates aan jou kinders wil nalaat, maar ook jou huweliksbeloftes wil eer.
Geskryf deur Nico van Gijsen
Alle lesers wat vir die tweede keer getroud is, worstel met die probleem van erflatings aan kinders uit die vorige huwelik. Dit kan ‘n probleem wees. Aan die een kant wil julle jul huweliksbelofte van wedersydse versorging en onderhoud aan mekaar gestand doen. Aan die ander kant wil jy jou kinders met bates bevoordeel wat jy bymekaar gemaak het.
Die “oplossing” is nie om ooreen te kom oor hoe julle bates in jul testamente sal be-maak nie. Ek het byvoorbeeld onlangs gesien ‘n man en vrou gaan ‘n ooreenkoms aan dat die man alles van haar sal erf op voorwaar-de dat hy weer in sy testament ‘n klousule aanbring watbepaal dat haar kinders (indien sy eerste sterf en hy dus van haar geerf het) die restant van die man se boedel moet erf.
Wie ook al die testament opgestel het, weet nie wat die “restant” in ‘n boedel is nie. Dit is alles wat in die boedel oorbly nadat alle skuld, administrasiekoste en belasting betaal is. Maar, belangriker, dit is ook nadat ander bemakings (genoem legate) gedoen is. Kortom: Die man (in die geval) kan byna alles aan sy eie kinders of ‘n latere huweliks-maat bemaak sonder om sy “ooreenkoms” – om die restant van syboedel aan haar kinders te bemaak – te onteer. Die restant kan nie vooraf bepaal word nie. Hy het beheer oor alles en net dit wat oorbly – as hy sy oor-eenkoms nakom – sal na haar kinders gaan.
Dit bring my by die kwessie van totale be-heer. Die reg erken mense se testeervryheid en jy kan met jou bates maak wat jy wil. As hy (in ons voorbeeld) alles geerf het, is dit syne om mee te maak soos hy wil. Enige ooreenkoms wat vooraf aangegaan is oor hoe hy dit sal bemaak, is dan nietig.
Oplossings
Wat kan jy doen om die probleem op te los? Maak seker van jou huweliksformaat as jy weer trou (in die sin van ons voorbeeld dat jy ‘n erflating wil maak aan kinders uit jou vorige huwelik). Binne gemeenskap van goedere beteken hy besit dadelik die helfte van jou bates (en jy van syne). Jy het dus dadelik net beheer oor die helfte van alles wat jy voor die tyd besit het.
As jy besluit om binne gemeenskap van goedere te trou, sluit die bates uit jou vorige [ewe uit in ‘n voorhuwelikse ooreen-koms. As jy trou met die toepassing van die aanwasbedeling, maak seker jou bates en die waarde daarvan is uitgesluit van die aanwas voor jy trou. As jou man alles van jou geerf het, is dit syne om mee te maak soos hy wil.
Goed, jy is getroud en jy het beheer oor wat om met jou goed te doen. Jy wil jou man (of vrou) die voordeel daarvan gee, maar ook nie jou eie kinders onterf nie. Daar is ‘n paar opsies en ek noem enkeles. Jy kan die bates aan jou kind bemaak met ‘n lewenslange vruggebruik vir jou man. Of jy kan die bates aan jou man bemaak op voorwaarde dat dit na sy sterfte na die kind toe sal oorgaan. Dit word ‘n fldeicommissum geno em. Moenie vergeet van die heel maklikste oplossing nie: lewensversekering.
Genoeg lewensversekering los al die probleme op. Dit skep genoeg geld vir ‘n langslewende gade en verseker dat jou bates in die hande van jou kinders beland, sonder dat iemand inmeng. Ek stel ook voor die opbrengs van die po-lls word aan ‘n trust begunstig vir sy onder-houd en dat die kapitaal by sy afsterwe ook aan die kind uitbetaal word. Op die manier bevoordeel jy die kind nog verder.
Nico van Gijsen is ‘n lid van FISA en bestu-rende direkteur van Finlac, ‘n onafhanklike finansielerisikobestuursmaatskappy wat by die Raad op Finansiele Dienste gelisen-sieer is. Finlac is aan geen finansiele pro-dukverskaffer verbonde nie.
Aflaai die PDF van die artikel here.